Sitemap
Photo: Julian Osuji

AfrikaBP: Die Volgende Voorpos vir Afrika-genomika — Bewaar Afrika se Biodiversiteit

4 min readApr 19, 2022

Die Afrika-BioGenoom-projek (AfrikaBP) het ‘n standpuntstuk in die joernaal Nature gepubliseer. Die stuk plaas die kollig op die doelstellings, prioriteite en pad vorentoe van hierdie indrukwekkende Afrika-aangevoerde onderneming om die genoomvolgordes van die plante, diere, fungusse en protiste wat endemies aan Afrika is, te bepaal. Ná sy voorlopige bekendstelling in Junie 2021, is AfrikaBP nou die tuiste van 109 Afrika-wetenskaplikes en 22 Afrika-organisasies. Navorsers, instellings en maatskappye vanaf al vyf streke in die Afrika-Unie word verteenwoordig. Daarby is AfrikaBP in ‘n vennootskap met drie komplementêre grootskaalse wêreldwye genoomondernemings, naamlik die 10,000 Plantgenoomprojek (10KP), die Vertebraatgenoomprojek (VGP) en die Aard-BioGenoom-projek (EBP).

Sedert sy ontstaan is AfrikaBP ‘n sterk voorstander van die belangrikheid daarvan om die kontinent se biodiversiteit deur genomika te verstaan en om die volhoubare gebruik van inheemse plante, diere, fungusse en protiste te verseker. Dit is aanmerklik dat die geenvolgordes van geringer gewasse van kulturele belang en ander stapelvoedsels wat van belang is vir streeksvoedselsekuriteit, steeds onbekend is. Hierdie genetiese inligting is belangrik om biodiversiteit te bewaar en veerkragtigheid teenoor toekomstige omgewingsdruk, soos klimaatsverandering, te bewerk.

Dus is die versameling, volgordebepaling en bewaring van genoominligting op die kontinent, deur en vir die mense van Afrika, ‘n hoofprioriteit van AfrikaBP. So word veerkragtigheid in teling, volhoubare voedselsisteme en biodiversiteitsbewaring regoor die kontinent uitgebou. Dit dra by tot die verwesenliking van die doelwitte van die post-2020 Wêreldwye Biodiversiteitsraamwerk van die Biodiversiteitskonvensie en die Verenigde Nasies se Volhoubare Onwikkelingsdoelwitte, terwyl die inspanning van die Menslike Oorerflikheids- en Gesondheidskonsortium (H3Africa) ook ondersteun word.

Die hoofdoelwitte van AfrikaBP kan nie sonder die ondersteuning van Afrika-regerings, die Kommissie van die Afrika-unie, nasionale en streeksagentskappe en internasionale vennote en organisasies verwesenlik word nie. Gedagtig aan die foute van die verlede, beplan AfrikaBP om voorts die voordele wat vanuit sy aktiwiteite spruit, billik te verdeel. In besonder sal dit in samewerking met beleidmakers aanbevelings vir wette en regulasies wat nasionale toegang en billike verdeling van voordele bestuur, maak. Dit dra by tot ‘n eenvormige kontinentale agenda terwyl die Nagoya-protokol vir die projek se behoeftes gevolg en aangepas word.

Tesame met nuwe beleide wat AfrikaBP ondersteun, sal nasionale owerhede saam met internasionale en streeksvennote moet werk om in die infrastruktuur vir genomika en bioinformatika in Afrika te belê. Die beraamde koste vir AfrikaBP is 1 miljard Amerikaanse dollars oor 10 jaar. Dit mag dalk soos ‘n reuse onderneming klink, maar hierdie belegging sal nie net navorsingsinisiatief bevorder nie, maar ook ‘n meervoudige rendement in terme van ekonomiese ontwikkel om die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te bereik, lewer.

Benewens die direkte voordele van die nuwe tegnologie en ekonomiese groei wat deur ontdekkings en beleggings in genomika en bioinformatika in Afrika verseker word, beplan AfrikaBP ook om ‘n kundigheidsnodus in die veld te ontwikkel. Volgehoue belegging in die vroeë loopbaanpyplyn om hierdie onderneming te ondersteuning, by universiteite en ander tegniese opleidingsentra, sal geleenthede aan Afrika-wetenskaplikes verseker. Dit sal verder aanmoediging om in Afrika te bly ná die ontvangs van opleiding deur middel van die kontinent se voorgenome projekte in genomika en bioinformatika, bied. AfrikaBP stel die ontwikkeling van ‘n beurs vir vroeë loopbaanwetenskaplikes in die vooruitsig om in die nuwe generasie van wetenskaplikes te belê en hierdie belangrike werk se toekomssukses te verseker.

“AfrikaBP is nie net ‘n wetenskaplike projek nie, dit is ook ‘n sosio-wetenskaplike projek waardeur ons hoop om bevoegdheid in genomika en bioinformatika nader aan die mense van Afrika te bring.” Dit is die woorde van ThankGod Echezona Ebenezer, stigter en mede-voorsitter van AfrikaBP, sowel as ‘n bioinformatikus by die Europese Molekulêre Biologielaboratorium, Europese Instituut vir Bioinformatika (EMBL-EBI), VK.

Roksana Majewska, AfrikaBP se Loodskomiteevoorsitter en ‘n navorser aan die Noordwes-universiteit, Suid-Afrika, stem saam. “AfrikaBP is ‘n indrukwekkende en waarlik herskeppende onderneming wat ‘n regte kans het die onafhanklikheid, volhoubare groei en langtermynwelsyn van Afrika-gemeenskappe te bewerk.”

“AfrikaBP sal verseker dat die voorpunt van wetenskaplike tegnologie, wat voorheen hoofsaaklik in hoë inkomstelande beskikbaar was, beskikbaar word vir gebruik regoor die kontinent,” voeg Anne Muigai, huidige voorsitter van AfrikaBP en professor van genetika aan die Jomo Kenyatta-universiteit van Landbou en Tegnologie, Kenia, by.

In die geheel wy AfrikaBP hom toe aan die verbetering van voedselsekuriteit, bewaring van natuurlike hulpbronne en ope dataverdeling op ‘n inklusiewe en billike wyse wat die prioriteite van die mense van Afrika na aan die hart hou. Dit is ‘n ambisieuse en belowende projek wat gereed staan om die kontinent na die volgende vlak van navorsing en innovasie te lei.

AfrikaBP Korresponderende Outeurs:

ThankGod Ebenezer (thankgod1980@yahoo.co.uk), Anne Muigai (awmuigai@yahoo.co.uk) Appolinaire Djikeng (appolinaire.djikeng@ctlgh.org)

Voorsitters van die AfrikaBP Subkomitee vir Kommunikasie:

Fatu Badiane Markey (fbadiane@gmail.com), Samuel Eziuzor (samuel.eziuzor@gmail.com)

Vertaler na Afrikaans:

Anneke Lincoln Schoeman (anneke.lincoln@gmail.com)

--

--

African BioGenome Project
African BioGenome Project

Written by African BioGenome Project

A pan-African effort to build capacity to apply genomics data for the improvement and sustainable use of biodiversity and agriculture across Africa.

No responses yet