Awêh Ivor, Hoe Ken Djy Dani Mee Vi My Nie

Gereeld kry ek oproepe uit die tronk uit- van familie en vriende. Vriende van my grootword dae, en vriende wat ek in die tronk gemaak het. Nie ‘n week gaan verby waar ek nie ‘n oproep van iemand uit die ‘vierhoeke’ kry nie. Hoe die ouens my nommer kry, weet die Vader alleen, en hoe hulle vanaf selfone bel, is nog meer ‘n misterie- of is dit?

Gisteraand kry ek weer so ‘n oproep, van een Justin (nie sy regte naam nie). Die ou begin dadelik te “saloet” en te kere gaan asof ek nog 26-Nommer taal verstaan; asof ek hom kan onthou. Maar ek kan nie.

Hy begin uitpak van ‘n vriend met die naam Goodheart (sy regte naam) wat “mos so vidala geskiet is in sy hometown”, sê hy. Ek onthou vir Goodheart. Hy probeer my weer: “Onthou djy vi Lange? Os’t amal mos in B-Seksie geslaap, man! Awêh Ivor, hoe ken djy dani mee vi my nie”, sak die ou toe finally af. “Ek hoop om jou eendag wee in lewende lywe te sien, my broe. Ek hoor djy maak groot moves ha buite”.

My hart sink ‘n klein bietjie.

Want, soveel soos wat ek wil wegbeweeg van my vorige lewe, het die tronk, en die vriendskappe daar, my gevorm soos wat min goed al het. Ek dink dadelik aan my BESTE vriend uit die tronk, Ryno “Magic”. ‘n Man wat in alle sport vir Australië geskree het, en van my ‘n Liverpool fan gemaak het; wat iemand se kop met ‘n blikbeker ‘n gat in gekap het omdat die laaitie my disrespek het, en ek kon niks daaraan doen nie, want ek het n vrylatings-datum gehad; die ou wat elke liewe song van Tupac en P. Diddy geken het. Hy’t niks gehad nie. Sy familie het opgegee op hom, maar loyalty was sy grootste eienskap. Ek het sy familie geword, en hy myne.

Waar hy vandag in die lewe is, weet ek nie.

Ek kan voel hoe ek al verder van my verlede af wegbeweeg. Dis ‘n goeie ding. My verlede is nou ‘n voertuig en nie meer ‘n kruk nie. Ek gebruik dit om ander mense ‘n lift te gee tot ‘n beter storie vir hulself.

Maar ek raak ook meer bewus van hoe ek ouens soos Justin* se stories verloor. Hoe ek vorentoe beweeg, en goeie vriendskappe- van die tronk en hier buite- agter los, omdat ek nét wil vorentoe. Ek wonder of dit die moeite werd is om vorentoe te beweeg- na wat ook al daar is- sonder vriendskappe. Ja, party vriendskappe móét agter gelos word, want dis toksies. Maar ons soeke na beter, en vorentoe, mag nooit bo ons verhoudings met mense geprioriseer word nie.

Ek lees vanoggend ‘n qoute in ‘n boek raak: “The truest friends I’ve ever known are the ones who offer me more than answers. The ones who sit in the ashes and allow me to weep, and share in my sorrow. The ones who dare to embrace God’s riddles with me”.

Ek het al vriende gehad wat meer antwoorde het as teenwoordigheid. Hulle kan nóú ‘n sistematiese verduideliking gee oor hoekom ‘n ding gebeur het. Maar as hulle wegstap voel ek nie beter, of opgelig, of bemoedig nie. Hulle antwoorde het niks verander nie. Maar ek het ook al vriende gehad wat nét hulle teenwoordigheid gegee het, en dit het al die verskil gemaak.

Ek vertel nou die dag vir iemand stories van die tronk, en vertel van hoe ek nog ‘n groot 2 en 6 tatoes op my skouers het, van die tronk bende. Na nog ‘n hele paar vrae sê die persoon vir my hulle wil graag vir my geld gee om al twee dié merke van die verlede te verander in simbole van hoop.

Dis nie om die storie te verander nie; dis nie om te vergeet waar ek vandaan kom, en die mense en dinge wat my gehelp vorm het nie. Dis soos om “hulle swaarde te smelt om ploegskare daarvan te maak” (Jes. 2:4).

Is daar ‘n Justin* of ‘n Magic in jou lewe? Iemand met wie jy vriende was, of is, wie se stories en teenwoordigheid jy al van vergeet het? Iemand wat deel was van jou storie, maar agter gelos het omdat jy vorentoe beweeg? Spoor hulle op, op Facebook, of stuur hulle ‘n boodskap.

Of, dalk is jy die vriend/vriendin wat alles met antwoorde wil regmaak. Dalk moet jy leer hoe om teenwoordig te wees in mense se sukkel, saam hulle in die as te sit en huil, en te besef dat nie alles het antwoorde nodig nie.

Ons lewe op geleende tyd.

Die dae is boos.

Oppervlakkigheid triomfeer in ons kultuur.

Gaan soek weer die diepte van vriendskap.

Vergewe dié wat jou storie gekneus het, en gaan spoor die op wat jou storie help genees het.


genade & vrede

i v o r

(**gee die storie ‘n SHARE as dit enigsins vir iemand anders iets kan beteken, asb.)

Welcome to a place where words matter. On Medium, smart voices and original ideas take center stage - with no ads in sight. Watch
Follow all the topics you care about, and we’ll deliver the best stories for you to your homepage and inbox. Explore
Get unlimited access to the best stories on Medium — and support writers while you’re at it. Just $5/month. Upgrade