Josef ennie lang Nag!

Die son is besig om te sak.

Dié was een lang dag.

Een of ander tyd sal hulle moet rus.

Mary se voete is asvaal, en seer.

Elke tree verder van die huis af bring nóg nuwe vrae oor die toekoms. Die is nou nié die lewe wat ek vir myself in gedagte gehad het nie, dink sy by haarself. Om ‘n kind groot te maak op haar jonge ouderdom is nou nie juis iets nuut vir waar sy vandaan kom nie. Die strate is besaai met vuil-neus kleuters, en dié se pa’s het almal gaan broodkoop en nooit weer gesig gewys nie. Dank die Vader vir SASSA AllPay!

Maar sy wou juis nié een van daai tipe meisies wees nie. Sy wou iets meer met haar lewe doen - al weet sy nie wat nie. Haar ouers help. Uit die vervloekte plakkerskamp kom. Weet nie wie dié plek se naam “Beverly Hills” gegee het nie, pffft! Dit lyk nie eers soos Beverly Hills se gat nie, dink sy. Maar hier is sy nou - kind op haar rug, man aan haar sy, en ‘n belofte van Bo dat dinge beter sal gaan vorentoe! Dis hoekom hulle ook nou maar die groot trek vat Joburg toe. Hulle sê mos “Joburg djaagie weggie en sê nie sleggie”. Elke kleur en volk is welkom in die New York van Afrika.

Sy kan nie haar onsekerheid oor die hele situasie met Josef deel nie, shame! Hy het nog minder hiervoor gevra. Inteendeel, hy het die volle reg om haar netso te los. Mans doen dit mos sonder skaamte; veral as hulle weet dis nie hulle kinders nie. Sy is eintlik skepties oor hoekom hy nog by haar is, 6 jaar later; hoekom hy saam met haar en die kind wil trek. Hy het ‘n goeie job as ‘n painter gehad. Dit het darem kos op die tafel gesit. Nou moet hy kamstig ‘n stap van geloof vat, en pa staan vir ‘n “ander man” se kind.

Môre is die kind se verjaarsdag.

Dis altyd ‘n spesiale dag vir hulle.

Dit herinner hulle aan die Geskenk wat aan hulle gegee is.

Kinders is ‘n geskenk, en moet gevier word. Maar elke jaar kyk hulle toe hoe ander te kere gaan, asof hulle ook verjaar. Dis groen opgedoende driehoek-tipe bome oral waar jy kyk met toegedraaide geskenke van elke size om dit. Almal is vrolik, en vergeet van die jaar se sweet wat so min brood ingebring het.

Die kind droom altyd dat dit oor hóm spesifiek gaan, dat almal so gelukkig is, dat hulle sy verjaarsdag saam met hom wil vier…al kry hy nie een van hulle geskenke nie. Maar hy weet ook beter as dit; selfs op sy ouderdom. Dié is mos ‘n ander wêreld waarin hy is. “Elkeen vir homself, en God vir almal”, sê die aunties gewoonlik.

As God maar net na vlugtelinge gekyk het soos hy na mense se verjaarsdag-bome kyk, sou God miskien verstaanbaar gewees het. Maar God is te besig om liggies om mense se huise te sit as om vir die kind en sy ouers plek vir die aand te voorsien.

Hy wonder of God dalk eers na jou velkleur kyk voor Hy besluit om jou te help.

Hy wonder of God weet van sy verjaarsdag, môre.

Hy wonder gaan hulle die lang nag oorleef.

Hy wonder of die nag al lank was vir ander kinders.

Hy wonder.

Ek wonder.

Môre is sy verjaarsdag.

Welcome to a place where words matter. On Medium, smart voices and original ideas take center stage - with no ads in sight. Watch
Follow all the topics you care about, and we’ll deliver the best stories for you to your homepage and inbox. Explore
Get unlimited access to the best stories on Medium — and support writers while you’re at it. Just $5/month. Upgrade