Jou Komberse Maak Die Wêreld Kouer!

Awêhhhh, dis mos alweer sulke tyd, neh!

Winter, masekinnes!

Dae waar die ryp spierwit lê op ‘n kar se bonnet, en die weer almal se ‘small talk’ met gemak oorvat. Almal maak sop, slaap met ekstra sokkies aan, en bid aan etenstafel “vir die wat nie so bevoorreg is om ‘n warm bord kos of ‘n warm bed te hê nie, Here”.

Dis ook die tyd wanneer al elke liewe kerk en corporate besigheid mos nou ‘n ‘blanket drive’ moet doen, om vir die einste minderbevoorregtes te sorg (want dis wat Jesus sou wou hê). En dis mos nou waar (soos ‘n kallid sal sê) “my ding moet pyn”, of “my kop moet klop”. Dis waar ek teen die karre skop- teen daai blanket drive van julle.

Hoor my gou mooi, asb!

Ek is GLAD NIE teen komberse uitdeel nie. Ek is GLAD NIE teen liefdadigheid nie. Dis mooi, en nodig, en help versker BAIE!

Wat ek teen is, is ‘n warm kombers wat met ‘n koue geselskap gegee word; ‘n warm kombers wat met ‘n bejammerte, droë glimlag gegee word; ‘n warm kombers wat sonder ‘n naam gegee word.

Dis daai tipe warm komberse wat die wêreld ‘n kouer plek maak.

Dis daai warm komberse wat met ‘n kamera in die ander hand gegee word, wat later op die kerk se Facebook Page gaan pronk, wat my bors warm maak. Hoekom is dit so moeilik vir kerke- en corporates- om liefdadigheid te doen, sonder om dit op sosiale media te sit, of om ‘n video daarvan te maak, om volgende Sondag tydens die diens te wys?

Elke winter word daar duisende komberse weggegee, en ons compassion word elke jaar minder. Elke jaar is daar ‘n groter CEO SleepOut, wat miljoene rande insamel in die naam van “haweloses”, maar haweloosheid neem al erger toe. Dit sal interesant wees om te weet hoeveel CEO’s wat so #RiseToTheChallenge ken iemand wat haweloos is; ken hulle by die naam, en storie.

Ons het te veel geld, en te min deernis; te veel geld en te min stories. Ons ken te veel hashtags en te min name!

Het ons deernis in ‘n kommoditeit verander?

Want dís wat ons wêrelde kleiner, en kouer, maak. Dis wat ons gewete stil genoeg hou om môre weer te “dink aan die wat nie so geseënd is soos ons nie”. (Jy’s nie geseënd nie; jy’s bevoorreg. Lees hier).

So, indien jy of jou kerk dalk ‘n ‘blanket drive’ beplan, vra jouself enige van die volgende vrae:

  • Gaan die komberse my gewete sus, tot volgende winter?
  • Gaan dit iemand se menswaardigheid herstel, of hulle wêreld ‘n kouer plek maak?
  • Is ek bereid om ‘n kombers te gee, en met ‘n naam en storie (van iemand anders) weg te stap.
  • As deernis my iets moet kos, wat is ek bereid om daarvoor te betaal?

Moet asb nie ophou om komberse uit te deel nie, maar moet ook nie ignorant wees in hoe dit gedoen word nie. Jy mag dalk net- in jou poging om mense warm te maak- die wêreld ‘n kouer plek maak.

grace & peace

i v o r

Welcome to a place where words matter. On Medium, smart voices and original ideas take center stage - with no ads in sight. Watch
Follow all the topics you care about, and we’ll deliver the best stories for you to your homepage and inbox. Explore
Get unlimited access to the best stories on Medium — and support writers while you’re at it. Just $5/month. Upgrade