Vandag se vrou

Nadine Swartz

Continuing on with celebrating women this month in South Africa, I’m reposting an article I’ve written (in Afrikaans) for a magazine, last year, titled, “Vandag se vrou”.

Al gehoor hoe baie mense die gesegde, “vandag se vroumense…” gebruik, om te verwys na n houding of ingesteldheid van die moderne vrou? En hoe daai verwysing selde na iets positief is?

Dis asof die samelewing nie ‘vandag se vrou’ ten volle kan aanvaar nie; asof sy terselfdertyd geprys en veroordeel word, deur die einste mense wat een vir een hulle klippe sou neergooi as hulle voor haar staan en die Meester hoor se, “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.” Ons dwing haar, om in haar eindelose geveg (steeds) vir gelykheid, te kies tussen wie sy wil wees, onafhanklik, en wie sy moet wees, in vergelyking met haar “voormoeders”.

Sy het drome, passies en potensiaal van lewensdraende vermoë, maar sy staan dikwels arm voor haar eie ideale. Sy staan met ‘n onvervulde opening waarmee sy nêrens kan gaan nie.

In haar linkerhand is die wysheid van ouds — ‘n generasie van vroue wat hul dae agter potte, kinders en wasgoed, tog linne, strikke, borduurwerk en die beeldskoonste tuine spandeer het. Die vrou het geglo, soos Lucas Maree sing in Die Weduwee se Kruik, “…dit is die goeters wat mens weggee wat jou ryk maak.” Dis ‘n mooi tradisie; hierdie moederlike steunpilaar van ‘n huisvrou.

Sy was sterk!

Sy was knap!

En sy was vreesloos!

En in ‘vandag se vrou’ se regterhand is die aantreklikheid van nuut, vars en vinnig — die multi-dinamiese vrou wat haar eie lewe met ‘n ysterhand balanseer. Sy het die geheim van self-vervulling onder die knie en sy is ‘n raakvatter. Sy is nie onbekend met rolle verandering nie; sys in baie gevalle ma en pa, en sy skroom nie. Dit wat sy soek is waarvoor sy gaan want sys bewus dat sy dikwels twee keer soveel moeite moet insit om teen haar manlike eweknie, met sy bree skouers, self-vertroue en welsprekendheid, moet mee te ding.

Sy staan kop bo water.

Ek het groot respek en eerbied vir ‘vandag se vrou’.

Ook sy is sterk en knap en vreesloos!

Maar ek voel ook inniglik vir vandag se vrou, wat dikwels moedeloos sit tussen die opsies- om te ‘wees’ of te werskaf. Veg sy vir haar identiteit as n vrou, of haar rol as een?

Jesus het eendag by twee susters, Marta en Maria, tuis gegaan. Marta was druk aan die werskaf, besig om haar rol as gasvrou te vervul, terwyl Maria haar identiteit by die voete van Jesus gevind het. Marta se gewerskaf het Jesus geensins beindruk nie, maar van haar suster het Hy gese, “…dit sal nie van haar weggeneem word nie.”

Identiteit (wie jy is) kan nie van jou af weg geneem word nie, maar n rol (wat jy doen), kan in n oogwink weg geneem word. Die sterk vrou is nie noodwendig die een met die top posisie nie, of die een wat die chaos en vereistes van vandag kan balanseer nie. Die sterk vrou is dikwels net die een wat weet wie sy is-met of sonder.

‘n Sterk vrou is nie ‘n vrou van sterkte nie.

Dis maklik om die gehoor met jou uiterlike sterkte te fnuik maar die vrou van sterkte verstaan haar emosionele kapasiteit beter as haar klerekas s’n. Sy is nie bang vir leiding neem of onderdanig wees nie, want sy besef dat die ware leier juis in onderdanigheid lei.

Die vrou van sterkte staan onafhanklik, maar sy is nie trots om te vra nie. Sy werk met haar passies, benader haar drome en staan nie terug vir probeer nie. Sy skep vir haar en díe na aan haar ‘n groen, lewenslustige en energieke omgewing, want sy dra die beeldskoonste tuin in haar hart.

Bowenal, die vrou van sterkte sien wanneer sy leeg is, en word dan hervul deur die Een wat groter as sy. Hy vul haar hart met dieselfde krag en moed wat in Rut, Ester, en Hanna, onder andere, geleef het. Hy verfris haar perspektief oor die dinge wat werklik saak maak, en wat ewigheids waarde het.

Hierdie vrou van sterkte is wie elke jongvrou gemaak is om te wees.

Ek sien daagliks die hoog geagte Spreuke 31 vrou, in alle vorme; om my loop; om my werk — in haar snyers kantoor pakkie of haar voorskoot in haar bakkery; daar waar sy sit en droom, of huil; in die winkel; in haar ouerhuis; in die skool se parkeerarea, of agter die glasdeure van haar maatskappy.

Sy is die steunpilaar en haar waarde strek bo haar eie verwagting.

Dis van haar wat gepraat word in Spreuke 31:25, Alles aan haar spreek van ‘n sterk en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie.