Met min gereedskap

Op pad na my smagtings


Op my amper-sestig jare raak mens al hoe meer bewus van die dinge wat jy so bitter graag wil of wou doen maar nog nooit by uitgekom het nie. Een rede hoekom dit gebeur, is dat mens alewig tot jou eie frustrasie voel dat jy nie die ‘nodige’ taal- of ander gereedskap, talente of vaardighede het nie. ‘n Minderwaardigheidsgevoel.

Ek is tog mal oor lees en skryf, oor goeie boeke, goeie musiek, goeie geselskap en goeie kuns, al is die definisie van ‘goeie’ dan beslis volgens my eie standaarde, wat gewoonlik ver verwyderd is van wat die res van die pop-mensdom dink.

Iewers moet mens tog begin. Stappie vir stappie. Algaande raak dit waarskynlik makliker, beter. Ek hoop hierdie vriend genaamd Medium gaan my daarmee help. Sodat ek ten minste sommige van my smagtings aan die horings kan gryp.

En, ter nagedagtenis aan my Engelse prof, elke keer as ek wil begin, help dit dat ek myself herinner aan sy raad, dekades gelede, dat mens, wanneer jy skryf of kommunikeer, die eenvoudiger keuse van taal moet gebruik. Sodat jou leser of luisteraar jou gemakliker en beter kan verstaan.

Dis my eerste storie.

Email me when Joe le Roux, Jozi publishes or recommends stories