Bang vir liefde

Ja. Ek is bang.

Bang om weer lief te hê.

Van voor af te leer,

Hoe my hand in joune pas.

Van voor af te verken,

Hoe jou lag en humor is.

Van voor af te ontdek,

Of jy van diere hou, van kinders, van mense, van speel en laf wees, van die lewe se speserye — is dit waarna jy ook opsoek is?

En of jy van my hou — my slegte dele net soveel as my goeie dele.

Ek is bang vir blind wees,

Soos die liefde is vir foute in jou geliefde.

Ek is bang ek besef te laat dat my vriende en familie reg is,

En dat ek vir hulle opoffer vir

Die “idee” van “liefde”.

Ek is bang

Dat jy my goeie dele sal onderdruk,

My laat skuldig voel oor die dinge wat my uniek maak.

Bang dat ek jou binne laat,

Binne my hart, ruimte, menswees, vriende en familie kring,

En dat jy dit nie sal kan aanvaar of hanteer nie.

Bang dat jy my sal verkleineer.

Bang dat my woorde vir jou onbelangrik is.

Bang dat my drome vir jou net stofwolke is.

Ek is bang dat ek te veel sal wees vir jou.

Bang dat jy nie bereid is (daardie bereidwilligheid van hart)

Om te probeer en te veg en hard te werk,

Elke liewe dag,

Vir ons verhouding — die driehoek verhouding met God.

Ek is bang dat ek nie myself kan wees by jou nie.

Bang dat ek nie in eenvoud en rustigheid met jou net sal kan wees nie.

Bang dat ons nie saam kan musiek maak nie.

Bang dat ons nie passie en daardie diepe band sal hê nie.

Bang dat ons nie stout saam kan wees nie.

Ek is bang vir jou verlede.

Bang vir myne.

En dan besef ek net:

Hou op flippen bang wees!

Gaan ry branderplank en vergeet van die haaie in die see.

“Bang” gaan altyd daar wees — die vrees vir iets wat geen vatbaarheid het nie.

En dan het ek altyd hoop binne my hart — dat jy gestuur is, want jy was ontwerp met my ingedagte. En ek was ontwerp met jou ingedagte.

En saam sal ons nie bang wees nie.

Ons sal die lewensbranders uitry tot op die sand en dan weer terug vaar tussen die golwe om die volgende brander te verower!

Ons sal saam die vrees van die lewe vierkantig in die oë staar.

Ons sal hulle wys waar Dawid die wortels begrawe het.

Die lewe is te kort om bang te wees. En te lank voor ek en jy mekaar weer vind.