Die Kasregister.

ñ Week terug is ek en my vrou oppad terug van vakansie af toe ons besluit om te oornag by Familie in fraserburg.Ons het by my Tannie oorgeslaap wat ek amper agt jaar laas gesien het.Toe ek by die deur van haar huis instap vang my oog ñ kinderspeelding wat ek herken het van my kinderdae af, ñ kasregister.

Ek onthou hoe ons met die eindste kasregister gespeel het as kinders, en die feit dat hy na amper 20 jaar steeds in werkende toestand was, was vir my ongelooflik.

Daar is iets aan die bekende wat jou terugruk na dinge wat jy lank reeds van vergeet het, reuke, gevoelens en mense wat êrens gebêre is, om weer herontdek te word.

Tydens aandete wys die Tannie vir my ñ foto van my Oupa toe hy jonk was in ñ foto saammet Ouma en my ooms en tannies.Dit was die eerste keer wat ek ñ jonger foto van Oupa en ouma gesien het, Oupa het tot ñ *three piece suit* aangehad!, terwyl my pa en sy twee broers strikdasse so groot soos skoenbokse om hulle nekke gedra het, wat ñ gesig.

Soos ek na die foto gekyk het, het ñ bekende gevoel my omarm, een. wat my altyd beetpak as ek na oudhede kyk, iets van intense verlies, dat dit eens vol lewe was bestem is om dood te gaan.

Toe ons by my Tannie-hulle wegry besluit ons om die dorp waar hulle bly te verken, speifiek die ou Kerk van die dorp wat volgens my Tannie se man op sy dag 1200 mense op sondae gesig het.By die Kerk aangekom is ek oorweldig deur die struktuur en die vakmanskap van die mense wat hom gebou het in 1943.Die gedenkplaat se skrif lees *in u lig vind ons lig* wat geneem is uit ñ psalm wat nou my gedagtes ontgaan.

Terwyl ek uitry uit die dorp besef ek net weer hoe nietig ons lewens is, en hoe ons probeer om dit te versier met dinge wat ons laat voel dat dit nie die waarheid is nie, sodat ons kan glo aan ñ immergroen tydlose bestaan.

Hoekom wil ons tydloos wees?

Miskien omdat ons beperk voel deur tyd, amper soos ñ gebrek wat ons probeer omseil deur kunsmatige elemente te gebruik sodat ons nie die realiteit van ons noue lewensvenster hoef te erken nie.

Dalk is dit nodig om meer eerlik te wees met onsself, dalk is dit moontlik dat daardie kinderspeelding lank na my dood nog sal bestaan en aan kinders twee geslagte vorentoe steeds genot sal verskaf terwyl ek tot stof sal wees.

Op die ou einde is die hede al wat ons het op aarde, ñ klein spasie wat ons het om dit wat ons die lewe noem te beleef, laat ons dan onsself toespits daarop.