Die slegste brood wat jy kan eet.

Ek hou van brood, veral as dit vars witbrood is én as daar nat beesbiltong op is, netjies.

Ek kan op my vingers tel hoeveel keer ek al slegte brood geeët het, gewoonlik was die brood self nie sleg nie, dit was somtyds net hard en oud, ander kere was dit meer wat op die brood gelaai is, soos polony, eew.

Dalk kan jy jou eie storie ophaal van brood wat jy nie jou aardsvyhand sou oplê nie, almal het ñ goeie brood storie.

Ek onthou hoe ons as kinders die oorskiet nagmaal brood verorber het as die grootmense besig was om koffie te drink na die oggenddies, ons het hompe van daardie blokkiebrood in ons kieste gestop, dit was lekker.

Dan onthou ek ook natuurlik hoe ons op Voortrekkerkampe stokbrood moes maak en hoe dit ons vier jaar gevat het om uiteindelik ñ smaakvolle stokbrood te maak, ons moes op kampe stokbrood maak en eers teen jaar vier het ons besef ons gooi te veel suurdeeg by, die brood was suurdeer as suursteen.

My Oupa het ñ plaas in Natal gehad waar ons sommige naweke gaan kuier het, in die oggende het hy by die bakker vars brood gaan koop vir ontbyt.Ek voel nou nog daardie warm plastiek sak waarin die brood homself toegewasem het tussen my bene in die bakkie, lekker.

Die 1953 vertaling van Psalm 127:2 sê die volgende:

“Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet — net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!”

Brood van smarte, definitief suurder as suursteen.

Die vers verwys na hoe ons baie energie kan toestaan aan aktiwiteite wat ons vroeg wakker maak en baie laat maak slaap, as ons kan slaap, somtyds hou hulle ons wakker ook.Daardie aktiwiteite sê die vers maak dat ons brood van smarte eet, ek wonder hoe proe smart?.

Smart volgens die H.A.T kan vergelyk word met die volgende woorde:

Smart

As ek so kyk na die woorde hierbo verbeel ek myself dat smart bitter eerder as suur moet proe, amper iets soos ñ mengsel van mampoer en gear olie, want met suur kan jy darem nog jou verbeelding gebruik, maar as iets bitter is inspireer dit niks.

Die tweede deel van die vers praat van hoe mens iets kry vanuit ñ plek van rus van die Here af, niks inspanning nie, net rus met ñ beloning, moeitelose vrug.

Die psalm skrywer het of ñ paar skroewe los gehad of hy het iets beet gehad, aangesien hy Salomo was sou ek sê die laasgenoemde sou dalk meer akkuraat wees.

As die vorige vierhonderd en vyftig woorde vaag was of dalk nie die punt huistoe gebring het nie laat my toe om dit te probeer definieër in drie en veertig woorde.

Ons, ek en jy, is nie in beheer nie. Ons, ek en jy, verdien niks, nie eers deur hard te werk nie. Ons, ek en jy, is bedoel om te ontvang, ons kan dit nie doen met bitter brood in ons hande nie.


As die gedeelte met jou gepraat het deel dit met iemand

Show your support

Clapping shows how much you appreciated Duplessis Janse van Rensburg’s story.