Skatryk klanke.

Hoeveel is jou woorde werd?

Woorde is eienaardig, hulle bestaan uit letters wat saam klanke vorm,klanke gee op hulle beurt weer oorsprong aan gedagtes en gedagtes vorm aksies.

Mens sou dink dat ons daarom moeite sou maak met ons woorde maar soms gryp ons woorde sonder om na te dink aan hulle impak, amper soos jou foon se autocorrect.Kyk wat gebeur as ek toelaat dat dit iPad se sleutelbord ñ sin bou met autocorrect:

Skryf in die kamer en die realiteit van die jaar is dat die eerste woord van jou lewe is nie ñ werkwoord nie.

Dit was so lekker kom ons doen dit nog ñ keer:

Lees meer oor die naweek se kant van die drie plekke in die Kaap.

Dié twee sinne het autocorrect geskryf, ek het net die getik wat hulle voorgestel het.Die tweede ene is dalk effens beter maar nie een is regtig sinvol nie(woordspeling nie intensioneel nie).

Hoekom nie?

Want die woorde is nie oorweeg nie, hulle is slegs gebruik.

Ek onthou toe ons in standerd ses in Afrikaans geleer het van woordsoorte en sinsorde, vir die drie weke wat ons daarmee besig was het dit gevoel of ek in ñ natuur en skeikunde klas sit, dit was nag.

Skielik het woorde reëls gekry, soos die elemente in natuur en skeikunde, waarvolgens jy hulle moes rangskik.Die onderwyseres het dit regverdig met die volgende slagspreuk:

“Goeie woorde, beter sinne, beste taal.”

Dalk wou sy net die trappe van vergelyking van die woord goed by ons tuisbring, wie weet?, maar een ding het sy reggeky, sy het ons bewus gemaak van die waarde van woorde en sinne.

Waarde vir klank.

Hoe weet jy wanneer jy waarde vir geld kry?, wanneer dit wat jy koop hou en sy doel vervul, en as dit kom by woorde?, hoe weet jy hulle is van waarde?.

Die antwoord mag dalk lê in die doel van woorde.

Woorde is bedoel om te skep, soos ñ bol deeg is woorde neutraal todat dit aangewend word.Jy kan die duurste item koop wat jy wil as dit nie sy doel verrig nie is die waarde daarvan nul.

Wat is byvoorbeeld die doel van die Mona Lisa?, daar is baie diep antwoorde op daardie vraag maar vir die doel van die skrywe sou ek sê dit is gemaak om voor te kyk.

As die Mona Lisa byvoorbeeld sou hang in ñ kuns gallery omring deur ñ swart boks sodat niemand dit kan sien nie sou dit steeds dieselfde waarde hê, maar dit sou net waardevol bly tot mense eventueel sou vergeet hoe dit lyk.

Die waarde van woorde lê daarin dat hulle skeppende potensiaal het, wanneer ons woorde se potensiaal ondermyn deur hulle te gebruik om te vernietig eerder as om te skep of hulle gladnie te gebruik nie trek ons geen rente op hulle nie.

Hoeveel mense sal baie geld betaal om woorde soos “Ek is jammer” of “Ek is so trots op jou” te hoor?, natuurlik sal hulle nie wil betaal om dit te hoor nie, maar die punt is daar is sinne wat baie werd is, wat se waarde nie eers in geld getel kan word nie.

Woorde maak saak want sinne maak saak, maak seker jy en die mense met wie jy praat kry waarde vir die klank.