Die Ou se Blok Skroei, Alweer!

Ek het n broer wat n skrale twee jaar jonger is as ek- maar kan enige dag deurgaan as n “forty-something” wat een te veel stamp en stoot weghet in die lewe. Hys soos daai een antie wat almal het, wat te vroeg in haar tiener-jare “gepeak” het, nou sit sy met te veel kinders, rook heeldag sigarette, en is verslaaf aan haar man se mishandeling- haar hoop en moed weggegooi in n stukkende Shoprite sakkie.

Ek grap net.

Net n kleine bietjie.

Maar ek wonder- soms te veel- of dit regtig moontlik is vir mense om te verander, op hulle eie? Is dit moontlik vir mense om self die kettings van dwelms, armoede, seer en swaarkry, los te breek, en hulle self te bevry van hulself?

Net nou die dag spog ek nog hewig oor my enigste broer; hoe hy hard oppad is om sy lewe om te draai in n dorpie wat hom al van 11–12 jaar oud probeer druk in die enigste blik wat hy ken: tronk-in, tronk-uit.

Net nou die dag vertel hy my hoe waardeer hy ons gesprekke die laaste twee maande, en dat hy al amper twee jaar buite die tronk is, met twee dogters wat hy grootmaak in die huis van ons oorlede moeder.

En, ten spyte van die feit dat hy soos n nat koerant lyk van al die jare se tatoeer-merke, waarvan een die woord “KORRUPT”- met n ‘K’ ja- groot in sy nek is, was hy so positief oor die lewe en sy toekoms die laaste ruk.

Maar dit was van korte duur, want, sy blok skroei alweer.

“Blokskroei”, verwys na tawwe plek in mens se lewe; n tight spot; n rock and hard place tipe storie- n situasie, of seisoen, wat die lewe vir jou te moeilik maak.

Ons almal was al daar.

Ons almal se blokke het al geskroei.

Ons was al almal tussen daai rock and hard place. Maar nie almal van ons het genade vir wanneer iemand anders daar is nie.

My broer se blok skroei omdat hy alweer- na amper twee jaar- in die tronk sit.

En dit breek my hart.

Nie omdat hy daar sit nie; hys goed bekend met die lewe daar.

Maar omdat daar nerens vir hom- en duisende ander- n skadu-plek is om te kom afkoel, as hulle blokke te vinnig te veel skroei nie.

Hulle lot is die straat, die tronk, en n lewe van blokskroei. En dis een van die min dinge wat die bitter-smaak van Apartheid soms nog vars en waglik in my keel hou. Dat generasies van bruinmense nie eers die woord ontmagtig verstaan nie, wat nog van die feit dat hulle mislukte toekoms vooruit beplan was, en nou trek almal hulle skouers op en smeek dat daar aanbeweeg moet word, “want dis al so lank na Apartheid”.

Innie meantime skroei die bruinkind se blok al hoe meer!