My Vingers is Geel, Want Dis Easter!

Auntie Rivelle by ons kerk stuur my die foto toe ek vra waar kry ek my kerrievis die jaar.

Die tyd van die jaar mis ek for real my kinderdae in Pineview, Grabouw- in die gaatjie (ghetto), soos hy bekend staan.

Want dis dié tyd van die jaar wat elke vis-verkoper uit die Strand of Gordonsbaai sy draai kom maak het om seker te maak die aunties het hulle shipment snoek of stokvis, of enige ander vis, om die potte vroeg in die Lydensweek te laat begin kook.

Die hele Gaatjie-arm soos hy was- het na vis, uie (of uiwe, soos jy weet), en kerrie geruik, want dis mos Pickled Fish en hot cross buns tyd!

Waar die tradisie van kerrievis rondom Paastyd in kleurling gebiede vandaan gekom het, is tot vandag toe ‘n raaisel. Die internet is vol weergawes van dié se oorsprong. (Ek gaan jou nie nog verveel met die detail nie jong). Maar van dat ek kan onthou, was daar kerrievis in ons huis rondom Paastyd. En my oorle moeder het haar storie goed geken voor daai 2-plaat stofie van haar.

Sy sal al ‘n week voor Goeie Vrydag haar vis en ander bestandele bymekaar maak. En dit was een massiewe opbou van opgewondenheid die heel week rondom die huis. Almal wag vir Ma Lettie om net te begin met die vis, want al wat kind en kleinkind is wou hulle vingers skelmpies in daai bak druk vóór Goeie Vrydag. Die reël was dat daar onder GEEN omstandighede aan daai vis geëet mag word voor Goeie Vrydag nie- dis glo hoogs onheilig.

Maar as Eva nie eers ‘n appel, of perske, of watokal, kon weerstaan het in die Tuin van Eden nie, wat nog te sê van ‘n kind wat voor n vars bak kerrievis staan?

Op Goeie Vrydag was die samekoms altyd n groot affêre- soos ons hom doen op Kersdag.

Die hele familie is daar!

Elkeen sit met sy “plate”!

Die kinders het maar altyd meer uiwe as vis in hulle borde gehad, maar jy “eet vir hom met hanne en tanne(dis n ekspressie van té lekker eet).

Daar was nie van mes of vurk nie. Kerrievis is ‘n hande-eet saak!

Jy breek ‘n stuk bun af, dip hom in die uiwe, met ‘n stukkie vis, en laat loop masekind! Dan sluk jy hom natuurlik af met ‘n glas gemmerbier, wat Ma Lettie ook self gemaak het.

Jou vinger punte is goudgeel na daai bord. Die kerrie sit diep onder jou naels in. Dit lyk of jy jou naels met “henna” gedoen het. Jou hande is taai. Al jou vriende in die straat weet hoekom jou vingers geel is. Hulle vingers is self geel.

Ek en Nadine het gister terug gekom uit Israel. Ons was daar vir so twee weke op ‘n toer. Een van die dae gaan ons groep toe Galilea toe- ‘n area waar Jesus baie van Sy bedieningstyd spandeer het.

Ons middag-ete was toe by Ein Gev- ‘n vis restaurant by die See van Galilea wat gewild is vir hulle “St. Peter’s Fish” dis. Dis glo die tipe vis waaruit Petrus die muntstuk gehaal het, op Jesus se aandring. Ons het toe die einste vis vir middagete gehad, en mense, het dit my nou terug gevat na my kinderdae in die Gaatjie- al was dit nou nie kerrievis nie. Dit was ook ‘n “hande en tande” saak, net hierdie keer met hummus en pita-broodjies op die kant.

Ek kyk nog uit waar ek die jaar ‘n stuk of twee kerrievis kan los slaan, want dis ook custom vir die aunties wat oorgenoeg maak, om van dit maar in ‘n tupperware bakkie te sit vir die wat nie so bevoorreg is nie (as dit by kerrievis kom is ek minderbevoorreg jong, altyd!).

My vriend, owen, se ma (ons noem haar auntie B), het my ook n foto gestuur van haar shipment, waarvan ek ook heel moontlik gaan kry.

Ek weet die Paastyd gaan oor Jesus se morsige dood aan die kruis, en Sy wonderbaarlike opstanding uit die dood. Maar jy mag dit so biekie oor jou moeder se kerrievis ook maak.

Mag julle hierdie Paastyd nie net alleen besef wat Christus vir ons kom doen het aan die kruis nie, maar mag julle ook tyd maak om met geel vingers om ‘n bord kerrievis te sit met familie en vriende. Mag julle na julle vingers kyk en julle seëninge tel.

Mag julle die Paastyd met “hande en tande” geniet.

En moet nie vergeet om ook ander te seën (met n tupperware bakkie) nie.

vrede vir jou.


P.S. As jy nog nie kerrievis probeer maak het nie, hier volg Auntie Rivelle se resep:

Fry fish and place in a bowl. Cut up onion rings. Warm oil in pan. Place mustard seeds, 2 heaped teaspoons of tumeric powder and 1 teaspoon of curry powder into oil. Stir through. Add onion rings, mix through and cook for about 5 mins. Add a full cup of vinegar and bay leaves and cook onions until gravy thickens. Pour over fried fish and voila!!