Ons vir jou, Suid-Afrika

NG Moedergemeente Worcester

Dié kerk- NG Moedergemeente Worcester- is seker die oudste kerk waar ek al was, én sommer gepreek het ook. Nou nie by die erediens nie- daarvoor is ek nog gans te jonk, onervare, en nie lig genoeg op die gesig nie.

Maar verlede week was ek in die einste kerk om by die jaarlikse Worcester Jeugweek te praat. Dis ‘n saamtrek van jongmense van oral in en om die dorp, om te kom luister wat God het vir hulle as jongmense van Worcester.

Wat ‘n belewenis was dit nie!

Dis die eerste keer wat praat met jongmense van ‘n dowe skool, ‘n blinde skool, ‘n jeug dwelm-verslawing rehabilitasie sentrum, en van die mees gerespekteerde skole in die omgewing…. op dieselfde tyd. Almal saam in dié Moedergemeente!

Die afgelope jaar het ek heel moontlik al by 30 verskillende van die soort saamtrekke gepraat. Maar die een was vir my anders, spesiaal, en ‘n prentjie van God se hart vir ons land.

Sò, hoekom is dit vir my so ‘n groot ding?

Want met ‘n land soos Suid-Afrika se geskiedenis, was die Bybelse konsep van eenheid onder die nasies iets wat nooit raak gelees was nie. Die Byble was sistematies verdraai om net een storie te vertel. en in sommige kringe en kerke is dit tot vandag toe nog ‘n vreemde idee dat God se ‘huis’ “‘n huis van gebed vir AL die nasies” is.

Maar hier, in die stokoue kerk, met al sy fisiese en denkbeeldige herrineringe na ‘n vorige leeftyd, staan ek- die bruinkind- toe en praat met bruin, wit, doof, blind, stukkend en gesond, oor God se roeping op Matheus se lewe toe Jesus vir hom sê: “Volg My!” Dis as gevolg van Jesus se inklusiewe hart wat matheus dadelik sy SARS werk opgegee het. Dis as gevolg van dít dat Jesus later die aand partytjie hou by Matheus se huis, en toe sommer nog ander tollenaars en sondaars ook nooi.

Dis in dié kerk waar ek gevoel het die jongmense, die nuwe generasie, die “kinders van vandag”, vang dit! (En, dis mos nou juis aan hulle wat die koningkryk behoort, neh!)

Dis asof hulle weet God se plan sluit almal in!

God se plan ken nie die grense van wie in is en wie buite moet wag, of wie sy eie denominasie voor die deur moet begin nie.

Dis maklik om na so ‘n gebou te kyk en te voel dis ‘n teken van “collonialism”- daaiagterent-siekte wat te veel Suid-Afrikaners aan ly, en dan te sê dit moet val #mustfall. Maar vir my- wat ook soms daai agterent-siekte het- het die kerk, of wat daar plaasgevind het in die Worcester Jeugweek, meer na ‘n baken van versoening gelyk; ‘n prentjie van die nuwe “ons vir jou Suid-Afrika”.

‘n Tiener wat een van die aande daar was het vir ons ‘n boodskap gestuur om te sê hoe dankbaar sy is vir die week, en dat sy n haar vriendinne hulle hande wil vuil maak om ‘n nuwe-nuwe Suid-Afrika te sien.

Die grootmense, slim mense, en gepoetste kerkmense van ons land gaan nog baie praat en baklei oor kultuur, en tradisie, en grond, en al die -isms. Maar daar is ‘n generasie van jongmense- blindes, dowes, en gerooktes- wat min gespin is oor al die -isms; wat wil herinterpreteer wat “Ons Vir Jou Suid-Afrika” beteken.

Daar is nog baie wat moet gedoen word. En dalk is ek net ‘n optimis as dit by die volgende generasie kom. Maar ek is liewer ‘n optimis wat verkeerd bewys word, as ‘n pessimis wat reg bewys word.

vrede,

B R U I N K I N D