Vat hom kwartlyn toe

Seuns wat in die sestiger jare in Pretoria groot geword het, sal ‘n paar dinge onthou. Die Capital bioscope met die sterretjies in die dak, Sunnyside arkade se sagte roomys met ʼn flake in, rowwe meisies by Arcadia se ysskaatsbaan en Frik du Preez.

Daar was nie televisie nie dus het jy Noord Transvaal naweke op Loftus of in die bewerige SA mirror / SA spieël voorprent by die rolprentvertonings gesien. Die sport insetsels was amper vir my ʼn groter hoogtepunt as die Kandidaat of Dirkie self.

Die klimaks vir enige Bloubul ondersteuner was om een van die spelers te kon ontmoet en dalk ʼn handtekening te kon kry. Ek onthou nog goed hoe my pa soms aangekondig het dat Piet Uys of Chris Luther vandag in sy winkel was. Om Frik du Preez te ontmoet het, was soos om te sterf en Hemel toe te gaan. As die Bulle of die Bokke so by daai tonnel uitdraf het, het ek as kind baie gewonder of die mense so tekere sou gaan as Jesus daar uitgeloop het?

Saterdae was ʼn vasgestelde roetine in die Dangoumou huishouding. Pa en ma kom half twee van die werk af en ons eet mash en boerewors, met warm Hatfield bakkery brood, spring in die Morris en jaag die nege kilometer Loftus toe. Klub, provinsiaal of internasionaal, maar op Loftus sou ons wees.

Ek onthou Carltonbeker weeksdae wedstryde wat daar 15 000 of meer toeskouers was om Tukkies (Pretoria Universiteit) en Bobbies (Polisie) te sien speel. Ek onthou die dag toe die tydelike paviljoene ineengestort het. Dit was na ʼn toets teen Australië. Ons het juis vroeër geloop en was op die einste B veld toe ek die onaardse dreuning hoor. En ek onthou die dag op Loftus toe Frik geplace, gedrop en gescore het. Die skare het by die tonnel vir seker nog ʼn uur geskree Frikkie Frikkie en as ek reg onthou het hy uit die kleedkamer gekom om dankie te sê.

ʼn Hoogtepunt vir my was om klubrugby by die B- en C velde te gaan kyk, wat min gebeur het aangesien die goeie wedstryde op Loftus se hoofveld plaas gevind het.

Een so besonderse dag speel Weermag teen Likkewane (Gevangenisdiens) op die B veld. My held, Frik du Preez, is kaptein van Weermag en teen die verwagtinge in is die Likkewane teen die einde van die wedstryd met ʼn punt of twee voor. Weermag kry ‘n strafskop in hulle eie gebied maar die tyd is verstreke. Pale toe skop of tik en hardloop was die opsies. Frik vat daai leer Super Springbok so in die een hand vas en wys in die rigting van die pale. Ek en my pa staan seker agt tree van hom af en kon duidelik die gesprek hoor. “Pale toe” sê Frik. “Daar is nie tyd vir place nie” sê die skeidsregter. “Dan drop ek maar” sê Frik. Dit was moer ver om die minste te sê en agt meter van die kantlyn, dus feitlik onmoontlik. Frik trap vas en drop die bal net net oor die dwarslat. Weermag wen en die mense storm weer op hulle held af. Vir my wat so ses jaar oud was, was alles natuurlik meer oorweldiggend en het alles verder en groter gelyk as vir die grootmense, maar ek sal die dag nooit vergeet nie.

Baie jare later het ek self die voorreg gehad om op die Wanderers se krieketveld (die Nuwe Ellispark was in aanbou) teen ʼn span van Pretoria te speel, en wie stap in ons kleedkamer in, Frik du Preez wat die spanbestuurder of keurder was. Ek het gedog ek droom en toe hy nogal sê “wel dan boys julle het mooi gespeel” en ons “loosies” ʼn kompliment gee, was ek in ʼn ander wêreld. Nog baie jare het verloop en Frik word speler van die eeu.

So gebeur dit dat ek betrokke raak by ʼn avontuursentrum naby Rustenburg en Frik tree af op ʼn plaas net oorkant ons onderneming. Frik en Bes word toe oorgenooi en ons kuier baie lekker saam met ons nuwe buurmense.

Na so paar rooiwyne vertel ek hom van daai drop. Ek vra hom of hy die wedstryd kon onthou? “Ja” sê Frik. Ek sê “jis ou Frik toe drop jy hom van die kwartlyn af oor” “Nee” sê Frik dit was die tien treë stippellyn. “Nee” sê ek teleurgesteld, “dit was die kwartlyn, ek was daar.” Frik vererg hom so effens en sê “My donner man, wie het die bal geskop? Ek sê jou dit was die tien treë stippellyn”

“Jis” sê ek verontwaardig. “Ek het seker die storie al vir tweehonderd mense vertel en vir almal gesê dit was die kwartlyn. “ Dit is jou probleem” sê Frik

Ons kuier toe maar verder tot laatnag.

Die volgende oggend stuur ek ʼn sms om Frik en sy vrou, Bes, te bedank vir die kuier. Frik stuur toe sms terug. “Skinder nou net oor jou, vat hom maar kwartlyn toe!”