Argitek van Anargie

Jaco du Plessis
qberi
Published in
3 min readMar 3, 2018

Iemand het eenkeer gesê: “It must be thoroughly understood that the lost land will never be won back by solemn appeals to the God, nor by hopes in any League of Nations, but only by the force of arms.”

Die intellektuele burgers van ons land is tereg ontstig oor Mal Malema se parti pris¹. Hy wil voorhou of die EFF se skema in ‘sy mense’ se vreedsame belang is, maar sy ordelose onderrok hang uit. Daar is nie so iets soos vreedsame vergrype nie — en Afrika is besmeer met episodes waar vergrype van menseregte die land in chaos verdrink het.

Daar is wye eenstemmigheid dat die beginsel van privaat besit die hoeksteen was vir die weghol sukses van die vryemarkstelsel en die hakskeen van alle ander ellendige bedelings. Enige regdenkede mens vra hom dus tereg af wat skort met dié man se metafisiese vermoë.

Die geweld, misdaad, moord en doodslag wat ons daagliks vreesbevange beleef in Suid-Afrika is ‘n direkte gevolg van die frustrasies wat arm, onopgevoede en hulpelose burgers van die land beleef. Die rede: die ontneming van regte — oor etlike honderde jare.

Maar ontneming is die verkeerde woord. Die ANC en die EFF hou voor dat iets ontneem is met die die koms van kolonialiste. Dis nie waar nie. Die mense van Afrika het nog nooit regte gehad om mee te begin nie! Hulle feodale stelsel het bepaal alles behoort aan Die Chief.

Soos Tutu sê, het die sendelinge die Bybel gebring en Die Chief die grond, en toe hulle die oë oopmaak na gebed, toe sit Die Chief met die Bybel en die sendelinge met die grond.

Die skending van menseregte vind steeds op groot skaal elders in Afrika plaas. Ek lees op Bloomberg Business dat “China Is Turning Ethiopia Into a Giant Fast-Fashion Factory”. Aanvanklik klink dit of hierdie ontwikkelings na ‘n nuwe Etopia gaan lei. Dan lees mens verder van hoe grond- en humanitêre regte geskend word.

“Urese Dinsa, a 69-year-old farmer and ex-chairman of the political ward where the park stands, says he was tricked by a promise of $37,000 and jobs for his children in exchange for leaving the 2.5-acre plot he’d farmed for 17 years.”

My leunstoel bevinding vir die onderliggende verleentheid van die vasteland is egter nie gegrond op die skending van regte soos privaat besit — wat volgens alle aanduidings die vertrekpunt is vir ekonomiese selfstandigheid — nie. Dit is die skending op pedagogie.

Nelson Madela het gesê opvoeding is die magtigste wapen om die wêreld te verander. En alhoewel Malema ‘n B.A. Honneursgraad het in Filosofie het, spreek sy benadering vir die oplos vir sy mense se probleme boekdele van sy insiglose ideologie.

Vyf-en-twintig jaar terug was dit die Oorwinning van Demokrasie in Suid-Afrika. Maar die reg om te stem was net een van vele uitgebreide regte wat elke landsburger toegedeel is. Daardie regte moet ten alle koste beskerm word en kan slegs volhou word deur onderrig en vaardigheidsontwikkeling.

Die wensdenkery van organisasies soos die EFF is die kanker wat lande lamlê en menselewens verwoes. Daar is niks goeds daaraan nie en dit hou nie op nie. Vandag se grondgrype is môre se verdrukking van spraak. Die gevolg is bloedvergieting, armoede en oneindige konflik — net soos die anargie waarin die ‘iemand’ in die aanhaling hierbo, sy land in gedompel het: Adolf Hitler.

¹ parti pris is ‘n eenvoudige illustrasie of kort verduideliking van die grondgedagte of bedoeling vir ‘n argitek se ontwerp. In Engels bekend as The Big Idea

--

--