about Music: Inleiding tot die Kuns om na Musiek te Luister
Inleiding en agtergrond: Musiek behoort die emosies aan te raak. As ons daarna luister, maar dit beweeg ons op geen enkele manier nie, is dit sekerlik onverskoonbaar?
Gedurende ‘n reeks geselsies, met musikale voorbeelde ingesluit, wil ek graag u ‘n ander manier van luister na musiek voorstel, deur te ontgin hoe dit die emosies aanwakker wat dit veronderstel is om by die luisteraar teweeg te bring.
Ek sou dit geniet om u gids te wees na ‘n dieper luisterervaring.
Musiek is ‘n kunsvorm wat emosies en gevoelens deur die medium van klank oordra. Om die skoonheid van musiek te verstaan, moet ons eers die basiese kwaliteite van ‘n musikale klank verstaan. Hierdie grondliggende eienskappe is ewe belangrik vir musici en musiekliefhebbers, deurdat dit ons help om mooi musiek te skep en te waardeer.
Deur hierdie kwaliteite te bemeester, kan musici ‘n wye reeks emosies en gevoelens deur hul musiek oordra, wat ‘n emosionele verbinding met hul luisteraars vorm. Gelykstaande hieraan kan die luisteraar van hierdie kwaliteite verstaan en op sy beurt ’n emosionele band met die musiek vorm.
Gewoonlik waardeer ons hoofsaaklik musiek waarvan ons verstaan, maar onbekende werke raak eers geliefd en gewardeerd wanneer daar verskeie kere na geluister word. Dit is omdat ons nie noodwendig weet hoe om die uitstaande kenmerke te herken wat die musiek maak wat dit regtig is nie. Wanneer mens jou beperk deur slegs te luister na musiek wat jy ken, beperk mens ook die moontlikhede om musiek ten volle te kan geniet. Deur die kweek van die kuns om na musiek te luister, kan ons die kreatiewe oogmerk van die komponis, sowel as die van die uitvoerende kunstenaar beter verstaan.
Daar is vier fundamentele karakteristieke eienskappe van klank wat deur musici én musiekliefhebbers verstaan moet word: toonhoogte, tydsduur, timbre (kleur) en volume. Hierdie vier eienskappe is konstant, ongeag die musiekgenre waarna geluister word.
Ek wil elkeen van bogenoemde aan u bekendstel, elk met sy eie voorbeelde, sodat ons regtig deurdring tot die kern van hoe musiek funksioneer. Hoe musiek ons boei en betrek by wat dit graag wil oordra.
Later gaan ons bykomende aspekte in ag neem: Toonkleur, Melodie, Harmonie, Textuur, Beweging en Punte van Aankoms, Vorm, manier van Uitdrukking, en Genres (Musieksoorte).
Indien u graag wil, sal ek as u musiekgids wil optree na ’n dieper, intenser luisterervaring En as u alreeds ‘n gesoute luisteraar is, mag ek dalk toegelaat word om u saggies aan iets te herinner van dit wat u soveel plesier gee.
Om mee to begin, luister asseblief na een (of altwee!) van hierdie stukke gekomponeer deur Mozart. Albei stukke musiek het voorgekom as klankbane in rolprente en is welbekend.
Get Brian Bekker’s stories in your inbox
Join Medium for free to get updates from this writer.
Wanneer u luister, probeer vasstel wat die musiek so kalmerend en ontspannend maak, en wat die emosie is wat die musiek probeer oordra. In toekomstige blogs gaan ons ontdek hoekom hierdie musiek hierdie spesifieke emosie aanwakker.
Mozart: Klarinetkonsert in A (Adagio-beweging) uit die film “Out of Africa”
Mozart: Klavierkonsert Nr. 21 (Andante-beweging) uit die film “Elvira Madigan”
Geniet die musiek!
Volg my gerus, ek publiseer gereëld artikels met musiek as onderwerp, baie musikale pitkos en luisterwenke.
Dankie dat u hierdie artikel gelees het. As u die musiek en inligting insiggewend gevind het:
· 👏 Gee die artikel applous
· 👏 Beveel dit aan by u vriende
· 🖋️ Skryf gerus kommentaar
· ✍️ Highlight dinge waarvan u gehou het
· 👍 Volg my en bly ingelig oor toekomstige artikels
· ❤️ Deur verspreiding bereik my artikels ’n wyer leserspubliek.










